Thursday 20 September 2012

VAN TWAKKIES NA BRAKKIES EN 'N MOTORBIKE

 
 
"TOERISTE neem my en my drie brakkies al meer af as vir die walvisse..."
Tong-in-die-kies aan die woord is Eastwood Nel (foto) van Onrusrivier oor hom en sy bekende motorfiets met die drie worshondjies agterop. Maar dinge was nie altyd so maklik vir hierdie bekende inwoner van die Overstrand nie.
Reeds so ver terug as 1969 het hy in die kloue van dagga beland. Maar dit was eers na sy vrou, Erica, hom uit die huis gejaag en van hom geskei het, dat dinge werklik uitmekaar begin val het. "Ek was werklik sleg," vertel hy. Hy besluit om "met 'n rugsak, 'n parcel dagga en 'n paar honderd rand..." na Hermanus te ryloop. Hier aangekom, slaap hy vir 'n paar weke in 'n grot by die ou hawe waar hy "bier in die een hand en zol in die ander " saam met die toeriste die walvisse in die branders bekyk.
Kort hierna kry hy 'n tydelike werk en 'n blyplek, maar nie lank daarna is hy weer sonder werk en terug op straat. Nou is dit egter winter en koud. Hy raak so desperaat dat hy by by 'n vakansiehuis inbreek. Dit kos hom agt maande in die tronk waar hy tot die besef kom dat hy hom sal moet rehabiliteer.
 
Hy word uiteindelik in die Hesketh King Rehabilitasie Sentrum opgeneem waar hy uitvars en vir die eerste keer aan homself erken dat hy 'n verslaafde is. "Dit was die eerste en moeilikste stap. Hierna was dit die lang pad boontoe..."

Vandag praat Eastwood gereeld oor sy lewe om ander te help. "Nou geniet ek die sonskynkant van die lewe en is dankbaar vir al die goeie vriende en hulle wat my so ondersteun. Ek Tertia en die seuns is lankal reeds weer vriende - sy was en is mos maar nog altyd my hart se punt en ek is nog net so baie lief vir haar..."

PS En vir diegene wat dalk wonder waarom Eastwood so gereeld die strate met sy brakkies deurkruis, bestel gerus 'n pizza vanaf Debonairs en ontmoet hom by jou eie voordeur
 
DEUR SHEKILAH

No comments:

Post a Comment